ONDERWATER FOTOS


Daar word tans geen onderwater fotos geneem nie

Elke jaar hou ons 'n onderwater foto sessie vir al ons kinders in die swemskool. Om te sien hoe die foto's lyk, gaan kyk op die webwerf of gaan kyk teen die muur in die swemskool na van die foto's wat in die verlede geneem is.

Hoe dit gedoen word :
Die foto's word geneem met die kind heeltemal onder die water. Ons forseer geen kind om onder die water te gaan nie. Ons help en verduidelik in baie detail wat ons wil hê hulle moet doen en hoe om dit te doen. Maar soms sal ons tog die kinders help om onder die water te bly, omdat hulle meestal soos kurkproppe na die oppervlak kom lank voordat die foto nog geneem is. Onder die water moet die kind se oë oop wees om 'n mooi foto te kry. Ons verkies geen swembrille nie. In uitsonderlike gevalle waar die kind nie sy oë onder die water kan of wil oop maak nie, sal ons wel swembrilletjies toelaat. Dit word egter as 'n laaste uitweg gesien.
Aangesien die water deur middel van osoongas gesuiwer word, is daar min indien enige chloor in die water teenwoordig wat die oë kan laat brand.

Watter klere word aan getrek ?
Gewone swemklere. Seuns kan in eenstukke of net in 'n swembroek kom swem. Dit is hulle keuse.

Watter kleur is beter?
Alle kleure is toelaatbaar. Ondervinding het wel gewys dat kleure in die rooi spektrum beter onder die water vertoon. Blou smelt baie saam met die reeds blou water, en die swemmer raak weg in die agtergrond.

Die meisies se hare?
Bind asseblief die dogters se hare in 'n stewige poniestert, aangesien die los hare geneig is om oor die gesiggies te beweeg sodra hulle onder die water in gaan.

Hoe lank is die foto sessie?:
Dit neem nie langer as 30 minute om die foto's te neem nie. Afhangend van hoe gemaklik die kind is om onder die water te beweeg, kan hy soms binne tien minute klaar wees.

Wat kry ek?
Jy het 'n keuse van twee pakette.
Opsie A :
1 x A4 Glans kleur foto en 2 x Jumbo glans foto's.
Opsie B :4 x Jumbo glans foto's
(ons kies die beste fotos vir die uitdrukke)
Beide pakette sluit 'n CD met alle fotos geneem op in in JPEG formaat.

Koste:
Beide pakette is R500.00 elk

Wat as daar meer as een boetie / sussie is?
Boeties en sussies kan 'n pakket deel, alhoewel daar dan slegs fotos geneem word waar beide op die foto's is. Indien jy individuele foto's van boetie of sussie wil he, sal jy vir aparte pakkette moet betaal.

Afslag vir meer as een kind?
Ja, daar is afslag vir gesinne met meer as een kind.
Die eerste betaal R500.00 per pakket. Die tweede betaal R400.00 en die derde betaal R300.00 per pakket.

Waarborg ons sukses?
Alhoewel ons in die verlede groot sukses met onderwater foto's behaal het, kan ons nie sukses waarborg nie, aangesien dit steeds die kind is wat sy oë moet oopmaak, na die kamera kyk en glimlag. Ons sukses is omtrent 90% om uitstekende onderwater foto's te kry.

Wat mag ons en wat mag ons nie doen nie :
Dit is nie 'n water speeldag nie. Dus, geen gespat, gespring in die water of geklap in die water nie. Die gespat maak borrels in die water en beinvloed die water kwaliteit so dat die water 'n melkerig kleur kry. Ouers, lig asseblief die kinders in dat ons wel 'n ander dag weer kan speel en spat, maar die dag van die foto's moet hulle rustig in die water wees. Almal wat die swembad betree, moet vooraf eers hulle voete in die badjie langs die swembad was. Moet ook nie jou voete in die swembad skoon was nie. Ons probeer juis alle vuiligheid uit die water hou om die foto's so helder en duidelik moontlik te kry.

Hoe bespreek ek plek? :
Daar sal 'n lys by die swembad wees wat al die beskikbare tydslotte aandui. Daarop sal jy ook die tydslotte kan bespreek wat jou pas. Ons beveel aan om vroegtydig reeds jou tydslotte te bespreek om telleurstelling te voorkom.

Betaling?:
Die volle onderwater foto fooie is betaalbaar 2 weke voor die foto sessie. Onbetaalde tydslotte sal daarna toegewys word aan persone op die waglys. Betalings kan gemaak word met EFT of kontant. Gebruik asseblief die kind se naam en van as verwysing.

Wanneer kry ek my foto's?
Die foto's sal beskikbaar wees vir afhaal in die eerste week van die nuwe jaar.

Ons hoop om julle daar te sien vir 'n foto met 'n verskil!