Ouer/Baba lesse

Ouderdom: 6 mnde - 3 jr

Wêreldwyd geniet babas vanaf net vyf dae ouderdom die sosiale en fisiese voordele wat water aktiwiteite inhou. Deur gebruik te maak van beproefde tegnieke ontwikkel deur spesialiste in hierdie veld, sal TINCO Watersport Sentrum jou en jou kind die vaardighede leer wat nodig is om die voordele van water aktiwiteite vir 'n leeftyd te kan geniet.

Babas is gaande oor die vryheid en pret wat water aktiwiteite bied. Deur hierdie ervaring met jou baba te deel is beslis een van die mees bevredigendste dinge wat enige ouer vir sy kind kan gee. Deur gebruik te maak van woord assosiasie, beweging, speletjies en liedjies skep ons swemlesse wat opvoedkundig, maar ook groot pret vir die babas is. Daardeur leer ons jou hoe om jou kind te hanteer en te leer om sodoende gemaklik en veilig in die water te wees. Deur 'n progressiewe benadering word jou baba die belangrike vaardigheid geleer om op sy rug te draai of na die oppervlak te swem, sou hy in die water val.

Die eerste jaar van jou baba se lewe is seker die belangrikste in terme van sy ontwikkeling - dis die fase wanneer die brein vinniger groei as in enige ander fase van sy ontwikkeling. Gereelde oefening speel 'n belangrike rol in hierdie fase omdat die brein, met elke beweging wat hulle doen, geprikkel word om meer inligting op te neem en te ontwikkel. Omdat water die baba toelaat om vrylik te kan beweeg sonder die beperkings wat gravitasie gewoonlik meebring, is dit die rede waarom swem die beste oefening vir jou baba is.

Deur in die warm water saam met jou baba te beweeg en te speel, word 'n noue band tussen jou en jou kind geskep wanneer jou baba die ondersteuning van sy ouer in die water kan voel en beleef. Met ons unieke afrigtings tegnieke leer ons jou baba om van 'n vroeë ouderdom gemaklik onder die water te beweeg. Vir hierdie klein mensie, wat afhanklik is van ander vir byna elke aspek van sy lewe, is dit 'n ongelooflike en bemagtigende ervaring wat jou en jou baba se self vertroue sal laat groei.

Reg deur hierdie fase sal jy met jou baba in die water wees om saam te leer en emosioneel met jou baba te bind. As jy self nie kan swem nie is dit geen rede tot kommer nie. Jy sal nooit te diep in die water beweeg waar jy ongemaklik voel nie. Jy kan hierdie geleentheid benut om jouself meer gemaklik in die water te maak.

Leer jou baba die basiese vaardighede wat eendag sy lewe kan red - spring in, draai om, dryf op sy rug , swem terug na die kant en hou aan die kant vas.