BACK to HEALTH & FITNESS

Duik In!


deur MANwees

Jy is drie keer 'n week op die trapmeule in die gim se tussenvloer en kyk af na die swemmers in die swembad. 'n Klompie dinge weerhou jou daarvan om te begin swem al weet jy dat swem, as algehele oefening, beter is as die optel van gewigte.

Nommer een:
Jy wil nie 'n Speedo aantrek ten aanskoue van die hele gim nie.

Nommer twee:
Op die oomblik kan jy wegkruip agter die loshangende oefennhemp, maar as jy begin swem, gaan jy nie jou lyf kan wegsteek nie.

Nommer drie:
Jy is bang jy gaan in 'n baan saam met 'n ernstige swemmmer beland wat geirriteerd gaan word as jy stadig swem.

Die eerste twee aspekte kan oorbrug word:

Daar is ander swembroeke as 'n Speedo of as dit nie hierdie handelsnaam dra nie, 'n swembroek wat soos 'n tweede vel sit. Dit beteken ook nie dat jy moet opdaag in 'n tamaaie swembroek nie - dis nie die strand nie. Jy wil vinnig en effektief deur die water kloof. Besoek jou sportwinkel; kyk wat by jou liggaamsbou pas.

Gepraat van jou liggaamsbou: dis iets wat geen kitsoplossing het nie. Jy moet die keuse maak:

Gaan jy vir altyd jouself van 'n swemmerslyf weerhou omdat jy nou 'n effense boepie het, of gaan jy nou die punch vat en later die vrugte pluk.

En as jy in die sportwinkel is, skaf 'n swembril aan. Pas dit en maak seker dat dit goed sit.

Jy's dan gereed.

Swemtegniek
Reg en verkeerd
Moenie op 'n dag besluit jy wil swem en dan die swembroek en bril aanskaf en dan wegspring nie. Tien teen een swem jy die slag wat jy dink jy baie goed swem verkeerd en as jy dit drie of vier keer 'n week doen, gaan jy die slegte gewoonte baie moeilik afskud. Vra iemand by die gim wat weet of jy die tegniek reg toepas, of as daar nie 'n swemafrigter is nie, kry iemand om een of twee keer te kom kyk hoe jy swem en jou met raad te voorsien.

Bemeester
Gestel daar is probleme met hoe jy die swemslag uitvoer en jy weet hoe om dit reg te stel, moet dan om hemelsnaam nie al die aanbevelings op een slag probeer uitvoer nie; jy's nie 'n robot nie. Neem een aanbeveling op 'n slag, swem tot jy dit regkry en dit deel word van jou swemslag en durf dan die volgende aanbeveling aan om die swemslag te vervolmaak.

Geduld
Dit kan weke duur voor jy aan spoedoefeninge begin werk, so kry dit uit jou kop. Konsentreer op die korrekte tegniek, spoed kan later kom.

Jou roetine
Maak warm
Soos met enige sport moet jy jou spiere losmaak. Begin deur vir sowat 15 minute teen 'n stadige pas te swem en verskeie swemslagte te probeer.

Voor jy ernstig raak
Die Amerikaanse oopwaterkampioen, Alex Kostich, stel voor dat jy die volgende drie oefeninge moet doen voor jy werklik begin swem:

Vuisoefening
As jy swem met 'n gebalde vuis beteken dit dat jy jouself voorwaarts aandryf met jou voorarm eerder as jou oop hand. Doen twee lengtes - een met 'n gebalde vuis en een met 'n oop hand.

Maak jou armbewegings langer
Wanneer jou arm die water binnegaan, vertraag dit met 'n paar sekondes wat die beweging langer sal maak wat goed is vir jou swemaksie.

Skop en rol
Swem op jou sy met jou onderste arm voor jou uitgestrek en jou ander op jou sy. Dryf jouself aan deur net te skop. Skop 15 keer en rol dan oor na die ander kant. Dit sal jou leer om om te rol.

DIE GROOT OEFENING
'n Swembad in die gim is gewoonlik 25 m lank; so as jy begin, swem vier lengtes (100 m) voor jy rus en hou die horlosie dop om te kan sien hoe jy oor die weke verbeter. Soos jy swemfiks word, kan jy verder en verder begin swem, maar moenie vir langer as sowat 30 minute so oefen nie.